Deur Basil Afrika

HULLE is op die oeroue, wrede manier in ’n boendoehof tereggestel.

Dié ontstellende toneel het hom Woensdag in die vroeë oggendure in Delft oorkant die Voorbrug-taxi-staanplek afgespeel, waar twee verminkte lyke aangetref is.

Hulle het hul lewe in ’n boendoehof verloor.

Lizelle Monique Standaard (31) en ’n man net bekend as Taswell is wreed vermoor.

Hulle is daarvan beskuldig dat hulle by ’n huis ingebreek het.

Inwoners het geskok vertel hoe ongelooflik wreed die twee aangerand is. Hulle is met bakstene gestenig, hul vingers is afgekap, oë uitgekrap en ore afgesny.

Standaard, die ma van ’n 13-jarige dogtertjie, het na verneem word saam met haar boyfriend in ’n hokkie in Corona Valley gebly.

Pa William Marcus (62) het skor gesê: “Sy is baie wreed vermoor. Daar was ’n gat in haar gesig. Sy was opgeswel en dit het gelyk asof haar liggaam gebreek is. Hulle moes geslaan gewees het met iets wat hul vlees uitruk.

“Ons het haar nog Dinsdag in die straat sien loop. Sy het nie by die huis ingekom nie. Haar 13-jarige dogter het met haar gepraat en gevra dat sy die aand by die huis moet kom slaap. Dit was die laaste wat ons haar nog gesien het.”

Volgens Standaard se ma, Catherine Marcus (58), was haar dogter nie saam met die mans wat ingebreek het nie.

Past. Charles George van die Delft-gemeenskapspolisiëringsforum sê: “Ons is diep bekommerd oor die grondbesettings wat plaasvind en direk aanleiding gee tot die misdaad wat toeneem. Daar is ’n ongelukkigheid wat broei onder die verskillende rasse oor die boendoehowe en wet wat in eie hande geneem word.”

Volgens kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het die gruweldaad hom tussen 05:00 en 06:10 in Aframweg oorkant die hokkies afgespeel.

Van Wyk bevestig: “Dit blyk dat die twee slagoffers deur ’n groep mense aangeval is. Hulle het verskeie wonde aan hul liggame. Niemand is nog gearresteer nie.” – Son 

Leave a Comment