Deur Mauricia Petersen/Son Koerant

HOEVEEL meer emosionele skade kan jy opdoen terwyl jy steeds probeer om oor jou vrees vir skool te kom en dan boonop dissiplinêr aangekla word nadat jy die slagoffer van boelies was?

Dís die lot van Faith Johnson (14), wat verlede week wreed deur medeleerders aangerand is.

Son het verlede week berig oor die tienermeisie van Darling wie se beserings so erg was dat sy in Tygerberg-hospitaal geëindig het nadat ses ander meisies haar aangerand en haar hare uit haar kop getrek het.

By Son se besoek het die leerder van Vooruitsig Primêr vertel sy wil nie teruggaan skool toe nie.

Nou het nóg ’n slag die kind getref. Die skool het aan haar ’n brief gestuur vir ’n dissiplinêre verhoor omdat sy in haar skoolklere by ’n bakleiery betrokke was.

Haar mammie, Vennessa Johnson (48), sê hulle weet nie waarom Faith aangekla is nie, aangesien sy die slagoffer is.

Johnson vertel: “Die maatskaplike werker het Maandag hier by die huis aangekom en aangeraai dat ek vir Faith dokter toe vat omdat sy baie vreesbevange en angstig is om skool toe te gaan.”

Faith kon nie die verhoor Maandagaand bywoon nie, omdat sy in die Swartland-hospitaal opgeneem en oornag gehou is. Sy is eers Dinsdag ontslaan.

Millicent Merton, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, sê die departement het Faith gekontak.

“Die leerder ontvang tans psigososiale ondersteuning van die distrik se gespesialiseerde afdelings vir leerder- en opvoeders­ondersteuning en veilige skole.”

Sy voeg by die boelies se dissiplinêre verhoor moet ook nog plaasvind. Hulle is toegelaat om toetse te voltooi. – Son 

Hierdie artikel het oorspronklik in Son verskyn: Geen einde in sig met boelies | Die Son 

Leave a Comment