WKB moedig bloedskenk aan hierdie Nasionale Bloedskenkermaand om die wêreld aandie klop te hou

3 Junie 2021

Die Wes-Kaapse Bloeddiens (WKB) vier Nasionale Bloedskenkermaand gedurende Junie en Wêreldbloedskenkerdag op 14 Junie. Gedurende die maand strewe die WKB daarna om mense bewus te maak van die noodsaaklikheid van veilige bloed en bloedprodukte sowel as die belangrikheid van bloedskenking.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) se tema vir hierdie jaar se
Wêreldbloedskenkerdag is “Gee bloed en hou die wêreld aan die klop”. Hierdie tema beklemtoon die noodsaaklike bydrae wat bloedskenkers in die wêreld lewer deur lewens te red en ander se gesondheid te verbeter, met ‘n spesiale fokus om die jeug aan te moedig om bloed te skenk.

Ongeveer 1% van die Wes-Kaapse bevolking het die afgelope paar jare die
bloedskenkbevolking opgemaak. Gedurende 2020 het hierdie syfer tot 0.86% gedaal. Die ideaal is dat 1-2% van die bevolking bloed skenk. Gedurende die COVID-19 pandemie is bloedskenkklinieke by skole, tersiêre-en korporatiewe instansies ingekort wat hoofsaaklik gelei het tot die afname.

“Tans bereik ons nie ons daaklikse teiken van 700 eenhede bloed nie. Die bloedverbruik in die provinsie het toegeneem en winter plaas altyd addisionele druk op bloedvlakke aangesien ons gereelde bloedskenkers aan verkoues en griep lei en dus nie kan bloed skenk nie”, sê Marike Gevers, Bestuurder van Openbare Betrekkinge by WKB. Die WKB maan alle
gesonde, bestaande en voornemende bloedskenkers wat aan die basiese skenkervereistes voldoen, om asseblief bloed te skenk en sodoende tot 3 mense se lewens te red met 1 skenking. Hul doen ook ‘n beroep op die jeug om asseblief bloed te skenk en ander te inspireer om dieselfde te doen; ons het jou nodig!

Indien jy tussen die ouderdom van 16 en 75 jaar oud is, 50kg of meer weeg, ‘n algemene goeie gesondheid handhaaf, ‘n veilige seksuele leefstyl lei en graag 3 lewens in net 30 minute wil red, behoort jy te kan bloed skenk. Om jou naaste bloedskenkkliniek te vind laai gerus die app af op Android en iOS of stuur ‘n WhatsApp na 060 549 7244 of besoek www.wcbs.org vir meer inligting.

Doen iets besonders, skenk bloed en hou die wêreld aan die klop.

Uitgereik deur die Wes-Kaapse Bloeddiens
Bestuurder – Openbare Betrekkinge
Marike Gevers
Tel (021) 507 6361/071 856 3625
[email protected]

Leave a Comment