Lyke oor naweek gedump

Deur:  Basil Afrika

VERSKEIE mense is die naweek vermoor en hul lyke is in bosse of oop stukke veld gedump.

Gisteroggend is die lyk van Steven Waggon (31) by ’n sportveld in Hillview naby Muizenberg gevind.

Waggon is na verneem word drie keer in die kop en een keer in die rug geskiet. Verbygangers het sy lyk by die sportveld gevind.

Volgens inwoners wat naby die sportveld bly, het hulle omstreeks 01:00 in die nag skote gehoor.

Die paramedici was eers 12:00 Sondagmiddag op die toneel. ’n Uur later het die morgue die oorskot kom haal nadat die familie Waggon positief uitgeken het.

’n Familielid, Anne Eiman, sê: “Ek het hom nog Saterdag vroegaand gesien. Hy was ’n rukkie daar by my, toe het hy geloop. Hy het nog gesê die jongens het hom van R90 beroof.

“Ek het gesê hy moet huis toe gaan. Hy het mos altyd geskarrel en rondgeloop.

“Sy niggie het hom nog Saterdagaand in Hillview gesien.

“Ons as familie is baie hartseer oor wat met hom gebeur het.”

Kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, het bevestig ’n moorddossier is geopen.

In Bonteheuwel is ’n onbekende man se lyk Vrydagmiddag helder oordag gedump.

Die voorval het in Karreestraat gebeur toe mense die lyk uit ’n wit motor gegooi en weggejaag het.

Volgens Angus McKenzie, raadslid van Bonteheuwel, is die man in die kop geskiet en woon hy nie in die area nie.

Die lyk van nog ’n onbekende man is ook Vrydag in die bosse by Baden Powell Drive – naby die Wolfgat- natuurreservaat in Mitchells Plain – gekry.

Volgens kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het die polisie die area gefynkam vir leidrade en die slagoffer is nog nie geïdentifiseer nie. ’n Moord word ondersoek.

Donderdagoggend is die lyk van ’n vrou in Manenberg op ’n oop stuk veld gevind.

Shannon Moses (40) is verskeie kere gesteek en het tussen ’n hoop vullis op die veldjie by Scheldtstraat gelê.

Dié ma van vier het as huishulp gewerk. Sy’s laas Woensdagoggend gesien toe sy haar huis verlaat het. Volgens Van Wyk was Moses nog ten volle geklee en sy het steekmerke aan haar bors gehad.

Niemand is nog gearresteer nie en ’n saak van moord word ondersoek. – Son 

Oorspronklike artikel: Lyke oor naweek gedump | Die Son

Leave a Comment