Bejaardes by tehuis ingeënt

Deur:  Leon Bonthuys

Photo credit: Sabirah Colbie van Apricot Place kry haar entstof ingespuit. 
FOTO: PETER ABRAHAMS

DIE inwoners van Apricot Place, ’n tehuis vir bejaardes in Bonteheuwel, is gister ingeënt.

Talle bejaardes voel dit is beter om ingeënt te word teen die corona-virus, wat die wêreld behoorlik laat bontstaan.

Raymond Coetzee (62) sê hy het hom laat inent, want hy weet van mense wat dood is weens die virus.

“Ek het geen probleme om ingeënt te word nie. Ek glo aan die entstof. Ek het eintlik daarna uitgesien.”

Nog een van die bejaardes, ene Fatima, sê haar dogter werk by ’n kliniek en sy het aanbeveel dat sy die entstof kry.

“God is in beheer en ek wil na myself ook kyk.”

Portia Hudsonberg van die departement van gesondheid sê hulle is verantwoordelik vir die mobiele inentings.

“Ons gaan na ouetehuise en ent mense daar in. Ons het die eerste dosis van die Pfizer vaccine gegee en oor so 4 tot 6 weke moet die mense dan die tweede dosis kry.”

Tenille Karen, verteenwoordiger van Pink Drive in Kaapstad, help ook met die inentings. Sy sê ’n mens moet vir jouself verantwoordelikheid vat en jou laat inent.

“Neem aksie en verleng jou lewe. Jy het ook ’n familie. Mense behoort hulle te laat inent.”

Raadslid Angus McKenzie se kantoor het gereël dat die bejaardes die entstof kry.

“Hoewel die entstof nie verpligtend is nie, is dit krities. Een van die groot gevare is die verspreiding van fake news oor die entstof.

“Die entstof is mos nie daar om mense se veiligheid in gevaar te stel nie.”

McKenzie sê dit is beter dat mense so gou moontlik ingeënt word. “As daar weer ’n vlaag van die virus kom, sal dit beter wees vir almal as jy ingeënt is.

“Dit kan katastrofies wees as meer mense nie ingeënt word nie.”

McKenzie sê hul kantoor het gereël dat oues van dae in Bonteheuwel ingeënt word omdat van hulle ’n SMS gekry het om na Heideveld te gaan, wat te ver is.

Mense in Bonteheuwel wat gehelp wil word, kan die kantoor by 021 444 2965 bel.

Bejaardes by tehuis ingeënt | Die Son

Leave a Comment