Graf vol water is skokkend

Deur:  Bohemia Jumatt

’N FAMILIE moes weer met hul geliefde se lyk terug lykhuis toe ry nadat die graf waarin sy veronderstel was om begrawe te word vol water was.

Die begrafnis moes toe inderhaas vir die volgende dag gereël word.

Dís die dubbele verdriet wat die familie van Valerie Jackson by die Maitland-begraafplaas moes deurmaak.

Larique-John Jackson, wyle Valerie se seun, en eerwaarde Llewellyn MacMaster het geweier om haar onder sulke omstandighede te begrawe en het kapsie gemaak.

MacMaster sou Valerie se teraardebestelling waarneem. Hy het aan Son gesê dit was vir hom skokkend om te sien dat hulle haar nie met volle waardigheid kon begrawe nie.

Hy vertel: “Die oomblik toe ons en die familie daar aangekom het, het ons die vlei reg teen die oop graf gesien.

“Ons kon nie eens daardie kant staan om die teraardebestelling te doen nie. Toe ek in die oop graf afkyk, sien ek net water.

“Ek het ’n vrees gehad oor hoe die reaksie op so iets sou wees. Die kis sou wegsak en dit was vir my onaanvaarbaar en skokkend.

“Die seun was toe reeds getraumatiseer oor sy mammie se dood. Ons kon nie sy ma daar begrawe nie.”

Volgens MacMaster moes die begrafnisondernemer, Phillips Funeral Services, vinnig ’n ander plan maak, wat hy toe gedoen het.

Hy het die Durbanvillebegraafplaas gebel en gehoor of daar ’n beskikbare graf is.

MacMaster sê hulle was gelukkig om teen R20 000 ’n graf te kry. Hulle het Valerie die volgende dag begrawe.

Hy sê ál wat hulle by die graf vol water kon doen, was om ’n gebed te bid en die roubeklaers van die tragiese situasie in te lig.

Hulle het die volgende dag net ’n kort seremonie gehou en Valerie begrawe.

Larique-John het aan Son gesê dit was ’n bitter nare ervaring vir hom en sy familie.

“Dit was baie traumaties. Ek wou my ma met waardigheid begrawe. Maar toe ek die graf by Maitland se begraafplaas sien, het ek gesien dis op ’n wal. Daar het water in die graf gelê.

“My familie het al die pad van Graaff-Reinet gekom en hulle moes inbel werk toe en nog ’n dag afvat oor die situasie,” sê hy hartseer.

Larique-John sê hy is baie teleurgesteld in die diens van die Stad Kaapstad.

Hy voel hierdie soort nare ervarings moet in die toekoms vir ander mense verhoed word.

Zahid Badroodien, die Stad se mayco-lid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, sê die hoë reënval in die wintermaande het die voorbereiding van grafte baie moeilik gemaak.

Volgens Badroodien is die familie se begrafnisondernemer ingelig dat die gekose grond vir die begrafnis naby ’n tydelike watermassa is wat weens die hoë reënval gevorm het.

Hy verduidelik: “Hierdie grond is gelig om seker te maak dat daar genoeg diepte vir die begraafplaas is.

Gedurende hierdie tyd vereis voorbereiding dat spesifieke grond gekies moet word op ’n ligging waar dit die droogste is en die grond gelig kan word.”

Graf vol water is skokkend | Die Son

Leave a Comment