Nog ’n cop afgemaai

Deur:   Tracy-Lynn Ruiters

‘N POLISIEBEAMPTE wat by die parlement gestasioneer was, is gistermiddag in Parow doodgeskiet.

Kommerwekkend genoeg is sers. Faizel Adams (41) die tweede polisieman wat binne ’n week doodgeskiet is.

Adams, van Mitchells Plain, het glo op die stoep van ’n huis in Victoriastraat gestaan toe die skote begin klap het.

Adams is verskeie keer getref en het op die toneel gesterf. Tonele van hartseer het hulle by die misdaadtoneel afgespeel toe Adams se liggaam ’n paar uur later verwyder is.

Albert Fritz, die Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, het die moord skerp veroordeel.

Fritz doen ’n beroep om alle cop killers met die volle mag van die wet te straf.

“Dit is altyd hartseer om te hoor dat een van ons manne en vroue in blou vermoor is, of hulle nou aan diens is of nie. Hulle is die dapper burgers wat soveel vir ons veiligheid opoffer.

“Ek doen ’n beroep op die polisie om alles in hul vermoë te doen om dié saak te ondersoek en die skuldiges aan die pen te laat ry.

“Ek wil ook ’n beroep doen op almal met inligting om na vore te kom.”

Fritz het ook sy meegevoel met Adams se familie en vriende gedeel.

Kol. Andrè Traut, ’n polisiewoordvoerder, bevestig die voorval en noem dat die omstandighede rondom die voorval ondersoek word.

Luidens ’n boodskap wat in die sosiale media die ronde doen, is die sersant in die kop en bolyf geskiet.

Die skieters het na bewering uit ’n MK1 Golf geskiet voordat hulle van die toneel gevlug het.

Traut voeg by dat nog geen arrestasies gedoen is nie.

“Die motief vir die moord moet ook nog vasgestel word.”

Nog ’n cop afgemaai | Die Son

Leave a Comment