Seuntjie naby ouers se huis doodgery.

Deur:   Enrico Claassen

WORCESTER. – ’n Ma van hier het Sondag hartverskeurend gehuil terwyl sy gewaak het by die lykie van haar vierjarige seuntjie wat minute vroeër deur ’n kar omgery is.

Die voorval waarin klein Keanu Willemse dood is, het skuins na 16:00 in Fischerstraat tussen Sohnge- en Van Zyllaan – digby sy ouerhuis – gebeur.

Keanu se ouers sê hul kind het, toe die motorkar hom tref, deur die lug getrek en meters verder op die teerpad te lande gekom.

Keanu was verbonde aan die Little Rascals Daycare Centre. Hy was die tweede jongste van ses kinders en het net verlede maand sy vierde verjaardag gevier.

Sy hartseer ma, Jackie Willemse (37), sê Sondag het sy omstreeks 15:30 van die werk tuisgekom.

Keanu was in die huis en sy pa, Saait Crotz (35), was besig om vir hom en die ander kids kos te gee.

Volgens Willemse het Keanu – nadat hy klaar geëet het – buite in die yard voor die gesin se voordeur gaan speel.

Sy sê dis toe dat ’n maatjie hom kom roep het om saam met hom winkel toe te gaan.

“Hy was nog nie eens vyf minute buite nie, toe skree ’n vriend van buite vir my: ‘Jackie! Kom kyk hier! Jou kind is omgery!’ ”

Volgens Willemse het sy ’n slag gehoor, maar nie gedink dis haar seun wat omgery is nie.

Willemse sê die ongeluk het gebeur toe Keanu en die maatjie op pad terug was huis toe.

Sy sê sy het na buite gehardloop en toe sy by Keanu kom, het hy met sy rug teen die randsteen van die pad gelê.

Volgens haar was sy regterbeen heeltemal vermink en sy nekkie gebreek.

Volgens Willemse was Keanu se lyfie op ’n klomp plekke gebreek. Daar was ook bloed aan sy voorkoppie.

“Toe ek hom optel, was hy heel pap. Hy het nog so klein bietjie asemgehaal. Daar was ook ’n traan in sy oog. Ek het heeltyd sy naam geroep en by hom gesit.

“Daar was niks oor van hom nie.”

Keanu is op die toneel oorlede.

Chrizelda Present, Keanu se studente-onderwyseres, sê met trane in haar oë hy was ’n baie liefdevolle kind.

Sy bars uit in trane en sê: “Hy was die eerste kind wat destyds vir my gevra het wat my naam is.

“Vrydag het hy nog vir my ’n drukkie gegee en gesê hy is baie lief vir my. Hy was soos my eie kind.”

Keanu se hartseer skoolhoof, Mariaan Fortuin, wat ook op die ongelukstoneel was, sê sy was ten tyde van die ongeluk in ’n kerkdiens toe een van die kerksusters by die kerk inhardloop en haar meedeel een van haar skoolkinders is omgery.

Sers. Vathiswa Jacobs, ’n polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek tans ’n saak van strafbare manslag.

Seuntjie naby ouers se huis doodgery | Die Son

Leave a Comment