Pastoor wil nou oor post swyg.

Deur: Tracy-Lynn Ruiters

Photo credit: Past. Oscar Bougardt sê hy verstaan Booysen. 
FOTO: Jonathan Lestrade

“JA, DIS my status, maar ek gaan nie kommentaar lewer nie.”

Só het pastoor Kevin Booysen gister persoonlik teenoor Son gereageer nadat hy opslae in sosiale media gemaak het met ’n homofobiese aanmerking.

Son het Dinsdag by Booysen gaan aanklop.

Booysen het verlede week dié status op sy Facebookblad gedeel: “Te veel m*ff**s nou wat die evangelie sing en preek. Here help ons.”

Tussen die mense wat Booysen se status ondersteun, is die omstrede rev. Oscar Bougardt.

Bougardt het aan Son vertel dat hy niks verkeerds sien aan Booysen se post nie.

“Hy meen daar is te veel jong pastore wat nie ondervinding het nie en wat te sag preek.

“Hulle is die m*ff**s omdat hulle nie die waarheid preek nie. Die boodskap is nie op homoseksuele gemik nie, maar vir dié wat met die evangelie wil kompromitteer.”

Bougardt voeg by dat hy altyd pastore soos Booysen sal ondersteun, veral omdat sulke pastore die tekens sien.”

Intussen vertel Louw Breytenbach, Mr. Gay SA, dat hy die status baie hartverskeurend vind.

“My pa is ’n predikant, ek is ’n Christen en het teologie gestudeer,” sê Breytenbach.

“Wat ek wel weet, is dat dit miskien tyd is dat die kerk sy deure vir diegene wat God die nodigste het, sal oopmaak in plaas daarvan om mense uit te sluit op grond van hul eie vooropgestelde ideologieë.”

Eerw. Chris Nissen, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, het aan Son bevestig dat sy kantoor in die Wes-Kaap die uitlating sal ondersoek.

Nissen voeg by dat mense moet leer om mekaar se kultuur, godsdiens-keuse en seksualiteit te respekteer.

“Dis nie vrye spraak as dit mense afkraak of hul menswaardigheid aantas nie.” – SON 

Oorspronklike artikel: Pastoor wil nou oor post swyg | Die Son

Leave a Comment