Ouers verdien nóú jou liefde

Written by on 12 October 2021

Die bejaardes speel gewoonlik verskillende speletjies wanneer hulle saam kuier. Jane Bam (middel, in rooi) is een van die eerste bejaardes wat haar by die senior klub aangesluit het.

 Deur:   Astrid Februarie

WYS nóú jou liefde vir jou ouers, terwyl hulle nog lewe!

Dít is die boodskap van Jane Bam, wat gister onder ’n groep bejaardes was wat Internasionale Maand vir Bejaardes gevier het.

Bam (63), van Lavender Hill, is die oudste lid van die Philisa Abafazi Bethu-organisasie se seniorgroep, wat in 2009 gestig is.

Die sowat 70 bejaardes het gister byeengekom om die dag te vier, stories te deel en speletjies te speel.

“Die klub is so belangrik vir ons aangesien baie van ons alleen by die huis sit. Jy sit op jou eie en dink aan verskillende dinge, maar hier kry jy vrede in jou hart en blydskap omdat jy dan besef jy is nie alleen nie,” sê Bam.

Sy sê sy verstaan dat almal hul eie lewe het en nie altyd tyd het vir hul ouers, oumas of oupas nie.

“Dit is egter baie hartseer wanneer ouer mense uitgesluit word van die familie se aktiwiteite.

“Aan jong mense wat nog hul ouers in hul lewe het, wil ek sê hulle moet hul ouers liefde gee. Ek volg die spreekwoord: ‘Gee vir my blomme terwyl ek nog lewe, nie wanneer ek dood is nie omdat ek dit nie gaan sien nie.’

“Gee liefde terwyl jy kan. Moet nie net aan jouself dink nie, gaan maak seker jou ouers het iets om te eet omdat daar soms niks is nie. Neem hulle uit as jy kan.

“Moenie net op jou status op sosiale media jou ma as ‘My Queen’ beskryf wanneer dit haar verjaardag is nie. Jy moet deur die jaar wys dat sy jou queen is. Bewys dit deurentyd aan haar.”

Lucinda Evans, ’n vroueregteaktivis en stigter van Philisa Abafazi Bethu, sê haar pad met die seniors is interessant, maar dis ’n swaar pad.

“In Oktober praat almal van seniormaand, maar ons moet eintlik 365 dae tyd aan hulle afstaan. Daar is gevalle van massiewe abuse van seniors.

“Ons hanteer baie sake hier by die sentrum van ouer mense wat abuse word. Ons senior social club van 70 lede kom Woensdae en Donderdae byeen.

“Die eerste ding wat ons altyd doen, is om ’n breakfast te gee omdat baie van hulle niks in die huis het nie en lewe van pensioen na pensioen,” sê sy.

Sy sê in sommige gevalle moet die pensioen gedeel word met kinders in die huis wat nie werk nie, kleinkinders en agterkleinkinders.

Dit is om dié rede dat breakfast en ’n hot meal so belangrik is.

“Ons moet dieper gesels oor die abuse van ouer mense, asook oor kinders wat nie omgee vir hul ouers nie.

“Dan is daar ook ouers wat hul huis verloor wanneer hulle ouer word. Van hul huise word ook van hulle weggeneem,” sê sy.

Evans se boodskap: “Kom ons create veilige plekke vir hulle, mans en vroue.”

https://www.son.co.za/Nuus/Kaapsenuus/ouers-verdien-nou-jou-liefde-20211007


Current track

Title

Artist