Hoërskool Hantam sluit vir veiligheidsredes

Written by on 21 July 2022

Hoërskool Hantam sluit vir veiligheidsredes

Gizella Opperman, DA-kiesafdelingshoof van die Hantam en Karoo-Hoogland, het in ’n verklaring gesê dat dit ’n skande is dat 690 leerders van die Hoërskool Hantam in Calvinia in die Noord-Kaap Dinsdag huis toe gestuur moes word weens veiligheidskwessies wat verband hou met die vloere van die skoolgebou en die moontlikheid van mure wat op enige oomblik kan meegee.

Die departement van arbeid het die skool aanvanklik in Oktober 2021 onveilig verklaar waardeur toegewings gemaak is om die skool oop te hou en leerders in staat te stel om die einde van die jaar eksamens te voltooi.

Ingenieurs van Kaapstad is gekontrakteer om met die eerste fase van assesserings op al drie geboue te begin. Daar is gevind dat al drie geboue ’n hoë risiko vir die opvoeders en leerders inhou.

Herstelwerk is oorgeskuif na die nuwe jaar en aan die begin van 2022 is ’n kontrakteur aangestel om stutte op te sit, as ’n tussentydse veiligheidsmaatreël. Dit het gevolglik veroorsaak dat die eerste kwartaal laat begin het.

Die kontrakteur is nooit ten volle deur die departement van openbare werke betaal nie en fase twee, wat die daaropvolgende verwydering van die stutte behels het, moet nog voltooi word.

Terwyl infrastruktuurherstelwerk gebly het, het die departement van arbeid intussen ’n opvolginspeksie gedoen en weer eens bevind dat die skoolstruktuur onveilig is. In ’n daaropvolgende vergadering wat Dinsdagoggend tussen die Skoolbeheerliggaam en die ouers belê is, het beide partye ooreengekom om nie die lewens van die leerders en onderwysers in gevaar te stel nie. Daarom is ’n besluit geneem om die skool te sluit.

“Die situasie is ’n vlek op beide die departement van onderwys en openbare werke, wat leerders, ouers en onderwysers gesamentlik gefaal het deur voort te gaan om die lewens van diegene wat Hoërskool Hantam betree in gevaar te stel,” sê Gizella Opperman.

Die LUR van onderwys het na bewering vandag met die ouers vergader.

Die DA sê dit sal die verwikkelinge fyn volg. “Ons sal met die departement in gesprek tree om aan te dring op ’n versagtingstrategie om te verseker dat die leerders dringend iewers veilig geakkommodeer kan word, om te verhoed dat skoolonderrig verder onderbreek word.”

Die politieke party sal ook aandring op aanspreeklikheid van die verantwoordelike amptenare in die departemente wat toegelaat het dat ’n hoërisiko-situasie voortduur.


Current track

Title

Artist