Vroue bemagtig

Written by on 30 August 2021

Deur:   Anele Mfazwe

 

Kwesbare vroulike plaaswerkers is Woensdag in ’n Vrouemaand event bemagtig.

Verskeie sprekers het die deelnemers van verskillende plase uit distrikte van Stellenbosch tot in Ceres inligting oor allerhande kwessies gegee.

Die plaaswerkers, almal lede van die Women On Farms-projek, het ook kans gekry om vrae te stel om duidelikheid van die aanbieders te kry.

’n Organiseerder, Micealah Ford, sê die event om Vrouedag te vier, het gefokus op die reg op maatskaplike en gesondheidsdienste.

Dr. Lizette Phillips, Bestuurder van die gesondheidsdepartement in die Kaapse Wynland, sê vroue in die platteland, veral bruin vroue, is die mees benadeelde mense in die land net gegrond op waarvandaan hulle kom en hul velkleur.

Phillips sê verder: “Dis baie hartseer dat ons nóú nog moet veg vir ons regte in die land met die mees progressiewe grondwet op aarde.”

Sy moedig verder die plaaswerkers aan om ingeënt te word om hulle teen die dodelike corona-virus te beskerm.

Phillips sê sy het eerstehandse ervaring van die verwoesting en hartseer wat die virus in ’n gesin kan bring, want sy het laas jaar albei haar ouers weens Covid-19 verloor.

Sy verseker die vroulike plaaswerkers daar is niks snaaks aan die entstowwe nie, soos gif of ’n chip nie.

Phillips beskryf die virus as ’n “monster” weens die pyn en lyding wat dit aan die samelewing wêreldwyd gebring het.

Sy voeg egter by: “Ons het ’n middel soos ’n vaccine om hierdie monster te beveg.”

Amanda Rinquest van Black Sash, ’n menseregtegroep, sê die regering het ’n grondwetlike plig om ’n basiese inkomste-toelaag aan inwoners te verskaf. Sy meen soos dinge nou in die land staan, sal daar nooit genoeg werk vir almal wees nie.

Dit wil sê die regering moet ander maniere vind om die armes te help om kop bo water te hou, sê sy.

Rinquest voeg by die Covid-toelaag van R350 wat die regering beskikbaar gestel het, is nie genoeg nie.

Volgens haar het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens dan R585 as die voedselarmoede-grensbedrag geïdentifiseer.

Dís die bedrag wat die regering onmiddellik aan mense tussen 18 en 59 beskikbaar moet stel, sê sy.

Vroue bemagtig | Die Son


Reader's opinions

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *



Continue reading

Current track

Title

Artist