Een bullet tref twee maatjies

Written by on 30 August 2021

Deur:  Bohemia Jumatt

TWEE onskuldige meisies is raakgeskiet toe bendes in Kuilsrivier op mekaar losgebrand het.

Die twee maatjies Zeta du Plessis (12) en Cassidy Poole (13), het voor ’n huis gesit toe hulle gewond is.

Die voorval het Dinsdagmiddag in Verenigdestraat in Kalkfontein plaasgevind nadat die tweetjies van die skool af gekom het.

Volgens Zeta se antie Rozetta du Plessis het dieselfde koeël Zeta en haar maatjie getref.

“Die koeël is eers deur die maatjie se boud en toe deur Zeta s’n,” sê Rozetta.

Sy voeg by dat die einste koeël nou ’n gevaar vir haar susterskind inhou omdat dit rondbeweeg en dokters dit nie kan uithaal nie.

Rozetta vertel: “Dinsdagmiddag het die kinders soos gewoonlik voor die huis gespeel. Ek was in die huis besig toe ek die skote hoor afgaan.

“Ek het gehoor hoe iemand gil. Toe ek buitentoe hardloop, het ek Zeta in die jaart sien lê.

“Ek het vir haar geskreeu om op te staan, maar sy’t gesê haar boud is lam en sy kan nie op nie.

“Terwyl ek op pad was om haar in te bring, het die jongens weer geskiet.

“Ek het haar aan die arm gegryp en vinnig in die huis ingesleep.

“Sy is geneem na die Karl Bremer Hospitaal, waar dokters nou elke dag probeer om op haar te opereer, maar die bullet beweeg al opper in haar been.

Volgens Rozetta is dit nie eens die eerste keer dat kinders in die bendes se kruisvuur beland nie.

Sy sê ’n sesjarige meisiekind is ook onlangs hier doodgeskiet.

Rozetta sê die gemeenskap het ’n petisie opgestel sodat die twee minderjarige skieters wat Donderdag in die Blue Downs-landdroshof verskyn het, nie op borgtog vrygelaat moet word nie. Volgens haar is hulle na die Bosasa-jeugsentrum gestuur.

AO Joseph Swartbooi, polisiewoordvoerder, bevestig dat die Kuilsrivier-polisie klagte van poging tot moord ondersoek.

Volgens Swartbooi was polisiebeamptes Dinsdag omstreeks 16:00 met ’n roetinepatrollie besig toe gemeenskapslede hulle van ’n misdaadtoneel in Verenigdestraat in Kalkfontein, Kuilsrivier, in kennis gestel het.

Hy sê: “By hul aankoms op die toneel het hulle die twee slagoffers met skietwonde aangetref.

“Die slagoffers is vir behandeling na ’n nabye hospitaal geneem. Die motief vir die aanval is nog onbekend.”

Volgens Swartbooi het die verdagtes van die toneel af gevlug.

Hy vra dat enige iemand met inligting die polisie se Stop Misdaadnommer, 08600 10111, moet skakel.    Een bullet tref twee maatjies | Die Son


Reader's opinions

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *



Continue reading

Current track

Title

Artist