Orderick kry geregtigheid

Written by on 30 August 2021

Deur: Astrid Februarie

 

SKULDIG.

Dís die woord wat Melvin “Mel” Volkwyn ná ’n hele dag gister in die hof gehoor het aan die einde van die regter se lang uitspraak.

Dis vir die moord op baba Orderick Lucas in Maart 2019.

Regter Nolundi Nyati het Volkwyn se lot in die Kaapse hooggeregshof met dié uitspraak geseël.

Orderick is in die oggendure van 25 Maart 2019 laas lewend gesien. Hy was in Volkwyn se sorg.

Sy lyk is op 2 April in ’n drein naby Wittebolstraat in Eersterivier naby sy ouma se huis gevind.

Nyati het in haar uitspraak gesê dat Orderick laas lewend in die teenwoordigheid van Volkwyn gesien is.

Sy het die staatsgetuie se getuienis aanvaar en Volkwyn se getuienis van die hand gewys en gesê dis nie die waarheid nie.

Volkwyn se weergawe is dat hy Orderick in die vroeë oggendure van Maandag 25 Maart aan sy ma, Davidene Lucas, teruggegee het.

Nyati sê Volkwyn se aksies daardie oggend was doelbewus.

Lucas het Orderick die vorige dag by ene Eon se huis gelos toe sy die huis verlaat het saam met ’n groep mense wat haar beskuldig het dat sy ’n selfoon gesteel het.

Orderick het agtergebly en Lucas is aangerand en sy het hom nooit gaan kry ná die aanranding nie.

Sy is deur haar ma gered wat haar huis toe geneem het en sy het daar oorgeslaap.

Nyati sê Lucas het die volgende oggend na Eon se huis gegaan om Orderick te gaan kry, maar Eon het aan haar gesê dat Volkwyn hom die vorige aand kom haal het.

“Volkwyn se aksies was doelbewus omdat hy geweet het sy gaan Orderick nie ná die aanranding haal nie.

“Hy het die kind gaan haal, hom nie na sy pa geneem nie, saam met hom gevat om dwelms te koop, huis toe gegaan en hom vermoor.”

Nyati sê voorts in haar uitspraak daar is geen bewyse wat Volkwyn se getuienis bevestig dat hy Orderick daardie oggend aan sy ma gegee het nie.

“Die bewyse wat deur die getuie gebring is, was onwaarskynlik en strydig,” voeg Nyati by.

Sy sê verder Volkwyn se gedrag teenoor Lucas en Orderick was vir die hof twyfelagtig.

“Hy het hulle afgeknou. Hy het ’n ongesonde obsessie met Orderick gehad.”

Verder sê sy ’n goeie vriend van Volkwyn van sowat 13 jaar het getuig dat sy hom daardie Maandagoggend 05:05 met ’n groot tas gesien het.

Sy het hom gevra waar gaan hy so vroeg in die oggend heen, maar hy het geen rede gegee nie.

“Hy het met die getuie gestry en gesê hy het nie ’n tas gehad nie, dit was sy sling bag vol hairdressing tools.

“Die getuie het aan die hof gesê hy het met die tas gestap, gestop om te rus en toe verder gestap.

“Vyf minute later toe hy weer verbykom, het hy nie ’n tas gehad nie.”

Nyati sê die hof glo Volkwyn het Orderick se lyk in die tas gesleep om daarvan ontslae te gaan raak.

“Hy het die baba doodgemaak en hom in ’n drein geplaas,” sê Nyati.

Buite die hof het Lucas huilend aan verslaggewers gesê sy het nie dié uitspraak verwag nie.

“Ek het gedink die hof sou mý blameer.

“Ek het confidence gehad dat dit hy was wat my kind gehad het omdat ek nooit my kind nie by hom teruggekry het nie, maar nie dat hy skuldig was aan sy moord nie,” sê sy.

Die saak gaan 14 September voort vir voorvonnisargumente.

Orderick kry geregtigheid | Die Son


Reader's opinions

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *



Current track

Title

Artist