Dis ‘n jab vir ‘n beter lewe

Written by on 2 August 2021

Deur:   Basil Afrika

Photo credit: Joe Tau meen die jab beteken vir hom lewe.
FOTO: Peter Abrahams

’n Werker van Bergkelder Distell hier was gister een van die eerstes wat sy Covid-19-inspuiting gekry het.

Bergkelder Distell het gister die inentingprogram saam met die Stad Kaapstad geloods om sy werkers teen Covid-19 in te ent.

Sipho Mangele (54), een van die eerste werkers wat ingeënt is, sê: “Ek was eers baie bang en onseker of ek die inspuiting moes neem.

“Daar is so baie stories wat die ronde doen, maar nou is ek gelukkig oor ek dit gedoen het.

“Ek wil veral bejaardes aanmoedig om vir hul inentings te gaan. Dit kan hul lewe en dié van hul familie red. Ek het nog nie Covid-19 gehad nie en ly aan hoë bloed.”

Mangele is die afgelope 28 jaar ’n algemene bestuurder en werk by Bergkelder Distell.

’n Ander werker, Joe Tau, sê: “Ons almal verdien ’n geleentheid om te leef. Dis my kans om van die geleentheid gebruik te maak, veral in die lig daarvan dat die pandemie al soveel lewens gevat het. Dit is ons kans om weer terug te keer na ’n bietjie normaliteit.

“Ek wil ander werknemers aanmoedig om ook te registreer vir die inenting teen Covid-19.”

Altesaam 1 500 werkers het al geregistreer en nóg 1 500 moet nog registreer.

Volgens Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, is dit baie belangrik om te registreer vir die Covid-19-inenting. Die werkers sal vanaf vandag ingeënt word.

Winde sê: “Dit het belangrik geraak om vennootskappe met die private sektor en besighede aan te gaan.

Dis nie net ’n belegging in jou werkers nie, maar ook hul families. Dis ’n oorgang van gesondheid na ekonomiese groei. Ons kan nie nog ’n lockdown bekostig nie.

“Daar gaan beslis ’n vierde golf Covid-19 wees, maar ons moet voorbereidings tref en voorbereid wees.”

Volgens Winde het altesaam 1,2 miljoen mense in die Wes-Kaap tot dusver al vir die Covid-19-inenting geregistreer.

Hy beweer om immuniteit te kry, moet sowat 75% van die Wes-Kaap se mense ingeënt word. Hy beoog om dit teen November te bereik, voordat die toerismeseisoen afskop.

Volgens Winde is die enigste probleem tans die beskikbaarheid van die vaccines om immuniteit te bereik.

Die minister van ekonomie in die Wes-Kaap, David Maynier, sê: “Ek kan julle verseker ons werk hard om ’n balans tussen werkers en werksgeleenthede te skep.

“Ons is baie bly alkoholverkope is terug en mense kan weer begin werk.

“Dis belangrik dat die ekonomie na normaal terugkeer en dít hang af van die mense wat registreer om ingeënt te word.”   Link: Dis ‘n jab vir ‘n beter lewe | Die Son 


Reader's opinions

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *



Current track

Title

Artist