Drie gesinne ly skade in brand

Written by on 2 August 2021

Deur:  Astrid February

Dit was geen feëverhaal toe inwoners van die Fairyland-woonbuurt voor die vlamme moes uitvlug nie.

Die krete van “Help ons! Help ons!” het gister in die oggendure deur die buurt weergalm soos wat ’n brand van die een hok na die ander beweeg het.

Drie gesinne het alles in die inferno verloor en is tans kliphard besig om hul lewe te herbou.

Die 23-jarige Pakama Kewuti, wat in die voorste hokkie met haar gesin gewoon het, vertel sy het wakker geword van ’n gillery buite.

“Ek was diep aan die slaap toe ek hoor hoe huil en skreeu ’n vrou dat dit brand,” sê sy.

Kewuti sê sy en haar gesin het nie eens tyd gehad om hul klere te red nie.

“Ons het net opgespring, ons belangrike dokumente, soos ons ID’s, gegryp en ons moes uithardloop.

“Daar was geen tyd om enige iets anders behalwe ons dokumente en ons lewens te red nie,” sê sy. 

Kewuti sê die brand het drie hokkies vernietig en drie gesinne – by nommer 35, 36 en 37 in Blue Moon-straat – is daardeur geraak.

“Ons moet maar nou van voor af begin. Dit is nie ’n lekker gevoel nie.

“Ons is onkant gevang, maar niemand is beseer nie, net geskok,” sê sy.

Kewuti sê behalwe dat sy en haar gesin hul klere en ander besittings verloor het, het daar ook ander mense se klere uitgebrand.

“Ek doen naaldwerk, so ek het mense se klere hier gehad waaraan ek gewerk het, maar dit is ook uitgebrand. So, nou is ek bekommerd, want ek weet nie wat om te doen nie.”

Volgens die Drakenstein Farm Watch (DFW) het hulle onmiddellik gereageer nadat die brand by hulle aangemeld is.

Die DFW skryf op sy Facebook-blad dat die brandweermanne van die Paarl die brand vinnig onder beheer gebring het.

Die DFW was op bystand op die toneel net vir ingeval.

“Ons bid vir diegene wat ál hul besittings verloor het.

“Ons vra die publiek om ’n brand aan te meld sodra hulle dit ruik of een sien.

“’n Huis- of kaggelvuur word elke 30 sekondes dubbel so groot, dus tel elke sekonde,” sê die DFW.

Die DFW-beheerkamer- operateurs sal die regte vrae stel om die regte plek te kry en uit te vind wat daar gebeur. Dit sal dadelik oorgedra word aan almal wat benodig word op die toneel.

Volgens die DFW is die oorsaak van die Fairyland-brand nog nie bekend nie.

Drie gesinne ly skade in brand | Die Son


Reader's opinions

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *



Current track

Title

Artist