Winston gee boodskap voor sterfte

Written by on 2 August 2021

Deur: Tracy-Lynn Ruiters

Photo credit: Joe Tau meen die jab beteken vir hom lewe.
FOTO: Peter Abrahams

DIE Covid-19-pasiënt wat die langste in Groote Schuur se waakeenheid deurgebring het, het die afgelope naweek afgesterf.

Son het omtrent twee weke gelede berig oor Winston Cogill (54) wat die langste tydperk in die hospitaal se ICU deurgebring het.

Winston, van Dieprivier, was ’n data-ontleder vir die Wes-Kaapse regering. Hy het 122 dae (4 maande) in die waakeenheid deurgebring.

Hy het nog aan Son vertel hoe die ondersteuning van die personeel by die hospitaal, asook die liefde van sy familie, hom aan die lewe gehou het.

Hy is toe huis toe gestuur waar hy steeds van ’n suurstoftenk afhanklik was.

Sy weduwee, Claire Cogill (53), is duidelik hartseer, maar sy het vrede gemaak met die verloop van die lewe.

Sy was 11½ jaar met haar man getroud en vertel dat haar Winston hom reeds voorberei het vir sy finale dae op aarde.

“Kyk, dis vreemd en voel nog nie for real nie, maar Winston het vrede gemaak dat hy reg is om te gaan.

“In die byna vyf maande dat hy by die huis was, het ons soveel tyd saam deurgebring, die meeste van ons tyd gemaak en nuwe memories gemaak.

“Hy het ook aan ons vertel dat hy gereed is om te gaan, om vry te wees en sy Maker te ontmoet.


“Ek dink dis hoekom ek so at peace is.”

Claire voeg by dat haar man in sy finale dae ook ’n boodskap aan sy familie gelos het.

“Hy’t ons gevra om ons lewe met God reg te maak, want Jesus is op pad.

“So, daar is vrede in my hart om te weet dat hy met die Man daar bo reggemaak het.”

Claire vertel Winston het ook gereeld oor die ondersteuning van lesers gepraat nadat sy storie in die media verskyn het.

“Dit wys net hoe ’n groot hart hy gehad het.

“Mense het hom deur ’n berig leer ken en is deur sy storie geïnspireer.

“Nou kan julle imagine hoe hy ons as familie gemotiveer het om te veg.”

Sy sê haar man het Sondag sy laaste asem in die hospitaal uitgeblaas.

“Hy het genoeg suurstof gekry, maar die koolstofdioksied het nie uitgestoot nie.

“Hy het shingles gehad, wat ook ’n viral infeksie is.

“Hy het die stryd voorheen gewen.

“Hy het deurgedruk, maar ons weet dat dit sy tyd was,” sê sy.

Prof. Richard van Zyl-Smit, een van Winston se dokters, vertel aan Son dat die hele ICU- en Post Covid-span verpletter is oor die nuus van sy dood

“Sy lewe en nou sy dood het ons almal baie geleer terwyl ons na hom omgesien het.

“Sy deursettingsvermoë en sy moedige houding het ons almal ook geïnspireer.


“Ons betuig al ons liefde en medelye met sy vrou en familie.”

Winston gee boodskap voor sterfte | Die Son


Reader's opinions

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *



Current track

Title

Artist