Bedrog benadeel leerders, SBG-lede loop hof

Written by on 11 August 2021

Deur: Leon Bonthuys

Die Western Cape Sport School in Kuilsrivier.
FOTO: Peter Abrahams

’N GROEP mense van die skoolbeheerraad (SGB) van die Western Cape Sport School in Kuilsrivier het Vrydag weens tenderbedrog in die Bellville-handelsmisdaadhof verskyn.

James Ketelo, Jerry Kapel, Eric Croy, Saville Fledermaus, Leslie Braaf, Mohamad Shaheed Khan, Nadia Mayman, Twoboy Moyo, Daring Security CC en Xavier Scholtz word vir bedrog en geldwassery aangekla.

Zinzi Hani, ’n woordvoerder van die Valke, sê sowat R319 miljoen se tenderbedrog word ondersoek.

Volgens Eric Ntabazalila, ’n woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, het die SGB in 2016 vir ’n nuwe sekuriteitsmaatskappy geadverteer om sekuriteit aan die kampus te verskaf.

“Die SGB het na ’n goedkoper verskaffer gesoek. Ná die sluitingsdatum het die skoolhoof en finansiële beampte met Daring Security CC oor die tender onderhandel.

“Maar Daring Security CC word deur die voorsitter van die SGB, mnr. Ketelo, besit. Hy was in die onderhandelinge teenwoordig.

“Dit is teenstrydig omdat hy die voorsitter is en ander moontlike diensverskaffers nie dieselfde geleentheid kry nie.”

Volgens Ntabazalila is tien ander potensiële tenders gediskwalifiseer en Daring Security CC se tender is met meer as 18 maande verleng sonder om die voorgeskrewe reël te volg.

’n Bedrag van R2 224 050 is oor die 18 maande aan Daring Security CC betaal.

Intussen sê Angus McKenzie, raadslid van Bonteheuwel, hy verwelkom die arrestasie van Mayman, wat ’n aktivis en leier van die Joint Peace Forum in Bonteheuwel is.

“Die sportskool is in 2007 op die been gebring om kinders met potensiaal te help. Dit is ook kinders wat uit benadeelde gemeenskappe kom wat soontoe gaan.

“Die beweerde steel van geld is ’n klap in die gesig van die leerders wat van benadeelde omstandighede af kom.”

Die saak gaan op 7 September voort.

Bedrog benadeel leerders, SBG-lede loop hof | Die Son


Reader's opinions

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *



Current track

Title

Artist